Pin It
13 goeie redes om jou Kersinkopies by die Groenstoor te doen

Ons het ’n lysie saamgestel van goeie redes om die Pure Boland Mark, beter bekend as die Groenstoor, vir jou Kersinkopies te besoek. Hier is hulle:

groenstoor-plaaslik

TIME Magazine het dit vergelyk met bloed wat moet sirkuleer om die liggaam aan die lewe te hou. Hoe meer geld plaaslik sirkuleer, hoe meer lewe in die plaaslike ekonomie. Want geld wat enige ander plek, of aanlyn, bestee word, vloei uit en gaan vir die vallei verlore. Maar as een R100-noot 20 keer hande verwissel in Worcester, beteken dit ’n inkomste vir 20 Worcesteriete!

groenstoor-uniek

Waar anders in Worcester gaan jy handgemaakte roomkaas soos Jacolien Rabie s’n kry (boonop met borde en kaasnaammerkers by)? Of egte, tuisgemaakte Hollandse stroopwafels deur die Baas-gesin? Al ooit gehoor van klapper-en-klei seep of heuning-lipsalf? Meer unieke geskenke gaan jy nêrens kry nie.

groenstoor-prakties

Die tyd is lankal verby dat ons geld het om uit te gee op geskenke wat niemand gaan gebruik nie. Daarom raak goeie koffie vir ’n koffieliefhebber, of die land se beste olyfolie (Willow Creek) vir die familie se beste kok van jou beste opsies. Deon de Bruyn rooster juis ’n beperkte hoeveelheid van sy “Festive Blend”-koffie net vir die 2016-feesseisoen.

groenstoor-klein

Dis iets wat die Groenstoor-uitstallers met oortuiging kan sê: Elke sent wat Worcesteriete by hulle bestee, is geld wat vir skoolklere of die elektrisiteitsrekening gebruik word, eerder as om na die aandeelhouers van groot kettinggroepe te gaan.

groenstoor-gehalte

Twee maande van onderhoude met Groenstoor-uitstallers het ons een ding geleer. Die produkte wat in mense se kombuise gemaak word, is die beste wat jy sal kry! Mama Rosa’s Pasta wat ver beter is as supermark-pasta. Daly Bread se brood waarby niemand anders s’n kan kers vashou nie. Miss J.L. Hall’s Worcester Sauces wat eenvoudig ’n nuwe wêreld van geur vir jou oopmaak. Dis maar die begin van ’n superlang lys!

groenstoor-waarde

Saam met die gehalte kom die goeie pryse. Jy gaan nie die goedkoopste van alles by die mark kry nie (daarvoor gaan jy R5-winkel toe), maar jy sal nêrens nader kom aan die “magic ratio” tussen gehalte en prys nie. Hierdie is kwaliteit wat almal kan bekostig! En gaan maak tog by die handwerkstalletjies ’n draai. Hier sal jy wel hekel- en borduurwerk kry vir ’n fraksie van die pryse wat boetiekwinkels vra.

page07

Mans is moeilik as dit by geskenke kom. Alona van die Daly-stalletjie se kreatief ontwerpte vuur-aanstekers sal enige toekomstige braai soveel makliker maak. Dink ook Bigo’s-biltong, koffie-geskenkpakke en interessante braailappe en hemde by Sarie Esterhuizen se borduurstalletjie.

Vroue, vir julle is daar klere en bykomstighede, handgemaakte leerhandsakke, geborduurde handdoekstelle of handgemaakte kwilts. Natuurlik is daar modieuse krale en ander juwele, maar ook omvou-rompe vir die strand. Gebruik dit sommer ook as ligte serp vir koel aande, of koel kaftan-rokkie vir warm dae.

Vir die kinders is daar allerlei speelgoed, insluitend ’n verskeidenheid houtspeelgoed, tuisgemaakte klei en oulike geskenkies (soos lapsakkies en unieke kaartjies) by die Met ❤-stalletjie.

page08

Handgemaakte Kersversierings van hout, metaal-kunswerke van Time after Time, bekostigbare skilderye of selfs jou geliefde se gesig op ’n skilderdoek. En daar is geen makliker manier om ’n vertrek lewe te gee as met vars blomme of ’n plant nie. Tom’s Fatplantz verkoop bonsai-boompies en inheemse vetplante in handgemaakte keramiekbakke of -potjies, terwyl vars blomme altyd beskikbaar is.

page09

Die familie kom kuier en niemand wil die hele vakansie voor die kospotte deurbring nie. Probleem opgelos! Vir ontbyt is daar ’n menigte bakkers se heerlike beskuit. Maak ’n draai by die Koreaanse stalletjie vir “corndogs” en “spring rolls”, of by die samoesa- en rotistalletjie vir middagetes. Sanoline Viljoen en ’n paar ander dames se ingemaakte slaaie is gerieflike bykosse. Aandete is afgehandel met klaargemaakte bolognaise-sous of gevriesde lasagnes. Tussendeur is daar Elsabe Visser se tuisgemaakte droëvrugte en vrugtelekkers (darem gesonder as al die sjokolade en ander soetgoed!) en heelwat soet peuselhappies.

page10

Vleis is die eerste ding waaraan mens dink. Michelle Basson se vleistafel het alles van ontbeende varknek en lamsboud tot heel beesfilette. Dihana Kloppers se ingemaakte amandel-appelkose sal jou Kerstafel ’n ongewone kinkel gee. Selfs spesiale dieetvoorkeure is probleemvry met glutenvrye Kersfeeskoeke, “Christmas mince pies” en brosbeskuit. Vir indrukwekkende nageregte is daar oorvloedige vars kersies wat by die Desember-mark beskikbaar sal wees.

page11

Elke produk by die Groenstoor is met soveel sorg en gehalte gemaak, dat jy dit as geskenk kan weggee selfs al het jy dit vir jou eie kombuis gekoop. As jou tannie dus vreeslik baie van Annelise Stofberg se kleinkoekies of Gevonden se kruiesout hou, draai sommer een pakkie of houer toe vir die Kersboom. En interessante konfyte was nog nooit ’n slegte idee nie.

page12

Daar is vir seker nie ’n ander plek in die dorp wat meer 100% plaaslike, topgehalteprodukte op een plek aanbied nie. Ongetwyfeld.

page13

Skop jou skoene uit en geniet iets. Overhex se wyne, vlytbier, interessante mengeldrankies en boetiekgeroosterde koffie. Pannekoek is natuurlik altyd ’n staatmaker. Ontbytbroodjies, roosterkoeke, breyani vir middagete… Met soveel watertand-disse om jou inkopie-ervaring af te rond, wie sal nou op enige ander plek wil koop?

Die volgende mark word Saterdag 3 December van 09:00 tot 14:00 gehou. Vir meer inligting, klik hier.

Pin It